Studiestukke

Vrydag, 08 April 2011 00:00

Gemeente Nuusbrief Volume 1 van 2011

Written by Ds Willie Gouws

God wil ons laat doen waarvoor HY ons geroep het, nie waarvoor ons kans sien nie.

Matteus 28:18-20:  “Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. (19) Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en (20) leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.  En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”"

Efesiërs 3:20:  “Aan Hom wat deur Sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, (21) aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.

Hierdie is die bekende opdrag van Jesus aan die dissipels net voor Sy hemelvaart, maar kom ons kyk ‘n bietjie uit ‘n ander hoek na hierdie gedeelte.  Wat Jesus hier doen is om sy dissipels voor ‘n onmoontlike taak te stel, naamlik:  “Gaan dan na al die nasies en maak hulle my dissipels..”  Die feit dat ons die gedeelte ken, maak dit nie minder moeilik nie; inteendeel, na byna 2000 jaar kon ons nog nie die opdrag ten volle uitvoer nie. Onmoontlik?  Nee, net baie moeilik vir ons mense.  Die geheim om die opdrag uit te voer, vind ons in die twee sinne weerskante van die opdrag, naamlik dat ons moet besef dat Jesus se Naam en gesag bo alles is wat ons ken en dat Hy in Sy almag by ons is. (Onsigbaar vir die wêreld).  Efesiers 3: 20 herhaal hierdie waarheid in ander woorde.

Hoekom sukkel ons?  Ongeloof en eie belang laat ons struikel.  Daar is seisoene in ‘n mens se lewe en vir gemeenskappe en gemeentes wanneer God verwag dat jy in geloof sal uitgaan om dit te doen waarvoor Hy jou geroep het of wat HY in Sy mooi plan vir  jou of die gemeenskap voorberei het om te doen.  Hierdie verwagting van God stem baie kere nie ooreen met wat ekself of ‘n gemeente dink is moontlik nie.  Dit is waar geloof inkom, naamlik, om verder te sien as wat die fisiese oog kan waarneem of wat die mens kan dink is moontlik. ‘n Ander proses wat ook inskop in die gelowige dissipel van Yeshua se lewe, is om te sterf aan jouself en eie belang.  Dink maar aan Jesus self in Getsemane.

Dit is interessant om ook te let op die lewe van die geloofshelde van die Bybel; hulle is konstant, bokant hul eie begrip van waartoe hul in staat sou wees, deur God gebruik.  Dus:  Dit hang nie af van oor hoe ek oor myself dink of wat ek dink ek kan doen nie, maar oor wat God vir my of die groep uitgelê het.  Daarvoor moet ek natuurlik my oor vir God se stem oophou en weet dat Hy my nie sal verneder of verlaat nie.  Sy weë is beslis anders as my eie of die wêreld waarin ons bly s’n.   Dit is ‘n baie bevrydende gedagte:  God hanteer my nie op my eie meriete nie, maar op SY idee of verwagting van my.  Alhoewel dit baie keer ‘n krisis in ons eie klein en selfgemaakte wêreldjie veroorsaak, gee dit ewigheidswaarde aan ons kort bestaan op aarde.  ‘n Paar kopskuiwe is hiervoor nodig: 
Ons moet glo en opgewonde verwag dat God met my gaan praat en dat Hy vir elk van ons ‘n persoonlike taak het. Byna altyd gaan Hy meer van my vra as waarvoor ek self of ander vir my lewe beplan het. 
Die keuse lê nie sodanig op die vlak om vir God se plan te kies nie, maar om te sterf aan my eie belange en God te vertrou vir voorsiening en dat Hy met my sal saamstap.  Ons moet aanvaar dat God se standaard in hierdie wêreld nie verstaan of verdra word nie en dat ‘n stap van gehoorsaamheid noodwendig teenstand gaan bring, selfs van mede-gelowiges.  Binne die uitleef van ons roeping kom daar tye van twyfel, maar gewoonlik gebeur dit as ons terugval op ons eie vermoë of ou waardes.  God berei my voor vir Sy take en vrede kom met die afhandeling daarvan.

Die wêreld is vinnig besig om uit beheer te draai of is nie meer soos ons dit geken het  nie.  Tekens van Jesus se wederkoms?  Ek dink so ja, maar eerder om ons aan te spoor om God se plan vir die aarde te begin leef. 
Konvensionele en ortodokse geloofstandpunte bly staan (God is gister, vandag en môre dieselfde); metodes, strukture en manier van kerkwees gaan geskud, selfs  gebreek word.  Indien ons beperkend sou dink oor
waartoe die geloofsgemeenskap in staat is, gaan God ons in ongemaklike situasies dwing om ons geloofstandpunte te leef, nl. dat Hy die ALMAGTIGE God is en ons gebruik op aarde.  Ons leer hierdie waarheid meer by die vervolgde kerk as by die vry kerk, want hulle is gedwing om meer Godsafhanklik te lewe.

Wat sê dit vir Stilbaai?  God het ons op ‘n mooi, stil dorp geplaas met mense wat baie gawes en besondere
vermoëns ontvang het.  Net sodat ons Bybelstudie kan hou, selgroepe kan hê en ‘n gemeente kan wees wat
lekker sing?  Net vir mekaar en eintlik vir onsself?  O nee, ons kan nie so dink nie, want die Bybel sê:  “Soek eers die Koninkryk van God en sy geregtigheid” (Matteus 6: 33).

Ek glo nog altyd dat Stilbaai toegerus is om Suid Afrika en Afrika te kan bedien met die evangelie en tot groot seën kan wees.  Daarvoor gaan ons die kopskuiwe soos hierbo genoem, moet maak.  Hier is meer gawes en vermoëns op een dorp as wat ek in ’n lang tyd gesien het.  Wat doen ons vir die Koninkryk daarmee?

Belangriker:  Is ons idee van wat ons kan en God se roeping vir ons gemeente dieselfde?  In die Naam van Jesus Christus wil ek vra om te gaan bid en te glo ver bokant wat ons verwag (Efesiers 3: 20) en meer in die lyn van Filipense 4: 13 op te tree:  “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”  Herlewing maak vry en los om te dien, soos God dit gedoen wil hê.  Mag ons in Paasfees vry breek uit die slawerny van ons
minderwaardige Christenskap soos die Israeliete uit Egipte kon wegbreek vanuit die farao se magsgreep.

Mag God U ryklik seën in Sy diens.

Groete in Yeshua, Yahwe se Wonderbare Redding.

Ds Willie Gouws